Home » About Hugo van Zyl » Rykes waai in hul hordes: ‘Wurggreep van geldreëls’ dwing hulle uit SA

Rykes waai in hul hordes: ‘Wurggreep van geldreëls’ dwing hulle uit SA

Rykes waai in hul hordes: ‘Wurggreep van geldreëls’ dwing hulle uit SA

Source: Rapport Deur Pieter-Louis Myburgh Sondag 05 Oktober 2014 3:07 nm.

Ryk Suid-Afrikaners emigreer in hul hordes omdat hulle vertroue in die land se ekonomie verloor het.

Voorts is Suid-Afrika se “ar­gaïese” valutabeheerstelsel, wat veronderstel is om te verhinder dat te veel geld die land verlaat, ’n groot rede vir dié valuta-uittog.

Rapport het met drie finansiële praktisyns gepraat wat mense met hul geldsake help wanneer hulle emigreer of geld in die buiteland wil belê.

Al drie sê al hoe meer welvarende en hoogs opgeleide Suid-Afrikaners neem hul geld en vaardighede na die buiteland.

Dit kom nadat die Suid-Afrikaanse internet-miljardêr en ruimtereisiger Mark Shuttleworth die afgelope week ’n geskiedkundige sege teen die Suid-Afrikaanse Reserwebank in die appèlhof behaal het.

Die bank is beveel om die R250 miljoen wat Shuttleworth in 2001 onder protes moes betaal om sy fortuin van meer as R4 miljard na die buiteland te skuif, aan hom terug te betaal.

Shuttleworth het aangekondig hy gaan die geld in ’n trust belê om ander Suid-Afrikaners by te staan wat die regering oor grondwetlike kwessies in die howe wil pak.

“Miljarde der miljarde rande verlaat tans die land saam met welvarende Suid-Afrikaners wat emigreer,” sê Michael Honiball van die regsfirma Webber Wentzel se belastingafdeling.

Die presiese bedrae wat die land verlaat, is onbekend en die Reserwebank wou nie dié besonderhede aan Rapport beskikbaar stel nie.

“Kragtens art. 33 van die Suid-Afrikaanse Reserwebank-wet kan die Reserwebank nie hierdie inligting deel nie,” het Hlengani Mathebula, die bank se woordvoerder, in sy reaksie per e-pos geskryf.

Honiball sê dit is baie kommerwekkend om te sien in watter getalle welvarende Suid-Afrikaners die land verlaat.

“Dit is mense wat werk hier skep, ons het hulle nodig. Maar die wurggreep van (ekonomiese) regulasies waarmee ons hier moet worstel, dwing hulle om oorsee te gaan sake doen,” sê Honiball.

Hy kry veral te doen met plaaslike entrepreneurs wat hul maatskappye soms vir honderde miljoene rande verkoop en dan met hul fortuin na die buiteland trek.

Ryno Viljoen, stigter van die maatskappy Cashkows, sê hy kry nou tot 150 aansoeke elke maand van mense wat die land wil verlaat.

“Dit is skrikwekkend,” sê ­Viljoen. Hy hanteer kliënte wie se bates enigiets tussen R20 000 en R200 miljoen beloop.

Volgens Viljoen voel welvarende Suid-Afrikaners genoop om die land te verlaat omdat daar onsekerheid is oor kwessies soos eiendom- en grondregte.

“Dit het vir hulle meer sin om hul kapitaal na die buiteland te skuif,” sê Viljoen.

Hy is skepties oor die uitwerking van veldtogte wat Suid-Afrikaners in die buiteland aanmoedig om terug te kom.

“Uit my eie ervaring kan ek sê daar is baie min mense wat terugkom,” sê Viljoen.

Hugo van Zyl, ’n belastingpraktisyn wat in internasionale transaksies spesialiseer, sê net die pensioene van sy kliënte wat reeds oorsee is, beloop elke maand R9 miljoen.

Hy sê die Reserwebank se streng reëls oor intellektuele ­eiendom, waarvolgens Suid-Afrikaners nie patente in die buiteland kan registreer nie, dryf baie innoverende individue landuit.

“Hulle gaan doen hul navorsing oorsee in plekke soos Silicon Valley (in die VSA),” sê Van Zyl.

Honiball sê Suid-Afrika skiet homself in die voet met sy ar­gaïese valutabeheerstelsel.

“Dink logies daaroor. Watter land ter wêreld laat jou nie toe om jou eie geld landuit te neem soos jy dit goeddink nie?

“Alle lande het in ’n mindere of meerdere mate valutabeheer, maar Suid-Afrika is die laaste land ter wêreld wat só streng is,” meen Honiball.

 

%d bloggers like this: